Bedankings

Bedankings- Martie Buys.

 Liewe Familie en Vriende,

Dit is met soveel nederigheid en diepe afhanklikheid van ons Here Jesus Christus wat ek hier voor julle staan. Om deel te wees van God se Raadsplan in goeie- en hartseertye is eintlik soveel genade want dit wys dat ons Here bemoeienis maak met elkeen van ons en dat ons Sy kinders is en dat Hy vir ons baie lief is.

Ons kan net vir U baie dankie sê vir ‘n wonderlike man, pa, oupa, broer en vriend wat in al sy weë en wandel op aarde al U opdragte uitgevoer het en dat hy U oneindig liefgehad het, dat U, U self aan hom openbaar het, dat hy in n verheerlikte liggaam tuis gekom het by sy Hemelse Vader.

Ek wil graag die persone wat hierdie paar dae vir ons as gesin opgepas het, beskerm het en versorg het baie dankie sê.  Ook wil ek graag vir al my twaalf kinders en twee kleinkinders baie dankie sê dat julle deel is van my en pappa.

Baie dankie Marina, Peet se kleinsus dat hy by jou was met die anurisme, jy het so vining opgetree, besluite geneem en hom saam met Hugo en Retha baie vining by die ambulans en hospitaal gekry.  Dankie vir die Montana Hospitaalpersoneel wat hom by die regte neurochirurg en ICU eenheid in Muelmed kon oorplaas.  Dankie ICU personeel vir soveel begrip en hulp! Hugo, jy is jou pa se kind uitgeknip want soveel van oorneem! Baie dankie!

Dankie Dr Erenst van Graan vir u ongelooflike deernis en medemenslikheid en eerlikheid waarmee jy vir Peet en ons behandel het. Baie dankie dat dr date k nog tot die heel einde se toetse kon bywees, dit was vir my baie spesiaal, ook die internis Dr Lubbe baie dankie!

Baie dankie Johan dat jy permanent vir n week ons hele gesin van 15 gehuisves het, kos gegee het en oë toegeknyp, waar ons jou huis op horings geneem het. Baie dankie vir ‘n wonderlike swaer en Marina, my sussie wat ek nooit gehad het nie, woorde kan ek nie ons liefde vir mekaar beskryf nie.  Baie dankie ook vir Peet se begrafnisbrief se uitleg, die tik, die foto!  Sóphie, geen wonder jy het ouma Sophia se naam nie, jy is n voorslag met al die etes, wasgoed en skoonmaak, so baie dankie!

Broer Douw, op jou stil, kalm en rustige manier het jy vir ons al die reëlings by die kerk getref en kontaknommers. Louise, jou altyd by-wees by die hospitaal was so gerusstellend.

Dankie Viljee en Benitsie dat julle deur die nag van Ellisras gery het en dadelik by pa kon wees. Dr Erenst kon julle op hoogte hou en vir ons so ‘n gemoedsrus gee wat nog moes vlieg.  Viljee, jou krag en sterkte straal uit en help on só baie.

Baie dankie Kobus, vir vinnige reël van vliegkaartjies vir my en Marí en wonderlike raad wat jy as oudste altyd vir ons het. Dankie Eti vir julle pragtige kindertjies en dat jy  en Kobus vir pappa kleinkinders gegee het. Die laaste twee weke het Kiara-Mari so lekker by ons gekuier en pa het n naamgenoot, klein Petrus Jacobus Buys.

Dankaie Marí dat jy mamma so mooi bystaan met baie reëlings en hoe geseënd is ek en pappa met sulke dogters!

Baie dankie Hugo vir die heen en weer ryery lughawe toe om ons almal hier te kon kry.

Baie dankie Wim vir jou aanbod wat ons so aangegryp het om onafhanklike vervoer te hê en Leonie se kar vir ons geleen het, dankie vir die bring Cherie! Dankie Erna en Wim vir kos en drinkgoed by die hospital, het dit só waardeer! Jou bystand, raad en begrip in ons situasie waardeur jyself ook is, en om teenwoordig te kon wee slangs Peet se bed kan ek nie genoeg voor dankie sê nie!

Douw, jy weet nie hoe trots pa op jou skryftalent en digtalent was nie. Dankie dat jy deur die nag vir mamma kon help met die begrafnisbrief en gedig aan pa en dat jy na al papa se belange gaan omsien waar dit jou werk is. Jy het die laaste tyd soveel raad en wysheid in daardie veld by pa gekry, wat n voorreg Douw! San-Marie dankie vir jou verstaan en bystand en dankie dat jy van die Paarl hier is vir Douw en vir ons.

Willem, wat ‘n Voorsienige God aanbid ons nie, dat jy hier was uit Londen, dankie vir jou kindwees saam met ons en ek is so dankbaar dat jy ook so mooi van oom Peet kon afskeid neem. Hy het nooit onderskeid getref nie, was vir jou lief soos sy eie kinders en dankie da tons ‘n seun en boetie kon by kry. Dankie vir Sophia wat oom Peet        ook n vorige geleentheid kon sien en baie life geword het vir jou Engelse vroutjie. Ons kon nie vir meer gevra het nie, pas haar mooi op Willem!

Sofí en Jaco, baie dankie vir al jul bystand en vashou en sterk wees deur hierdie tyd, Jaco dankie dat jy mooi na Sofí kyk en dat oom Peet jou geken het van toe jy nog net Viljee se beste pel was! Ons is baie lief vir jou. Dankie Sofí vir vinnige besluite en reëlings en altyd kyk waar is mamma en is mamma oraait!

Dankie my twee boeties, Dawie en Calie dat julle my seer help dra en so goed is vir my ten spyte van julle verlies ook. Christien jou daar wees was vir my so kosbaar.

Peet was by baie verskillende firmas, skool-, kerk-, buro-,rugbyinstansies en werke betrokke waar hy oud kollegas en personeel sy ware vriende gemaak het. Die afgelope drie en ‘n halwe jaar by Bondpro in Stellenbosch was hy so gelukkig en bly om elke dag van Hermanus te ry deur die mooi natuur en met ‘n lied in sy hart gewerk en naby aan God geleef het.

Dankie Dawie Botha vir n maat, broer, vriend en vertroueling wat jy vir Peet en ons hele gesin is.  Dit was vir hom so lekker in die Kaap en baie dankie vir jou aandeel in sy laaste jare. Ons sê aan ons Here baie dankie dat dit vir hom gegun is saam met jou en Erna!

Baie dankie Dawie dat jy dit moontlik gemaak het dat Bondpro bestuur hierheen gevlieg het, woorde het ek nie!

Wat ‘n wonderlike Lewende God aanbid ons nie waar Marí vir ‘n jaar saam met Peet kon werk en dogter en pa in werksverband het vir papa só baie beteken en nou kan sy pa se plek volstaan. Dankie James dat jy ‘n oudste seun was vir pa, hy het altyd gepraat van sy sterk-in-beginsel-seun. Wat ‘n mooi getuigskrif!

Peet se laaste fasiliteerderswerk op aarde saam met John Couzen en E P WOS bestuur en personeel wat hy sy wysheid kon deel was so bestem in God se Raadsplan.  Barend, Peet sou jou kry by die Presidentslosie vir wedstryd tussen Bulle en Leeus en   waar jy tans in NZ is met die rugby en in die gees by ons, baie dankie vir ware vriende wat jy en Marinda vir ons is.

Hoe bevoorreg was ons gesin nie, om drie predikante om die beurt langs Peet se siekbed te kon gehad het en almal wat gebel het en ons so opgedra het aan ons Here! Dankie vir bemoediging, onderskraging en sommer daar wees, Ds Pieter Heystek, Ds Niekie Rothmann en Dr Gert Breed , spesiaal van Potch af.

Henri en Alet, en al die Mosambiek, Sodwana, kampvriende en ander vriende sulke vriendskapsbande kan net gesmee word van Bo. Baie dankie Henri vir ‘n ouboet, Peet het jou ook so genoem elke week het julle mekaar gebel! Dankie vir ‘n ware vriend vir Peet en so dankbaar jy kon hom gegroet het in die hospitaal. Jul vriendskap was ver bo die van korale.

Alet dankie dat jy my verstaanmaatjie is en net altyd op die regte tyd op die regte plek is! Ek dank God elke dag vir al my wonderlike vriendinne, Soutsusters en Norman Burger( ons Bybelstudiegroep van Randburg) en al my lappiesgroepe van die Kaap en Randburg. Al het ek in die Kaap gebly was ek elke week deel van julle, dankie vir ‘n ongelooflike ondersteuningsisteem! Dankie julle almal met voorbereiding en skink van tee en dat ek alles net so aan jul kon oorlaat.  Dankie Illa vir reël van broodjies en Corna en Janie van Not Bread Alone vir ander eetgoed. Dankie Alet, Petra, Albertha en Chrissie vir die pragtige rose!

Dankie Chris Hattingh, die koster wat in hierdie bouery en bourommel so hard gewerk het om ‘n diens hier by ons ou gemeente te kon aanbied en die klankman wat ingestaan het. Baie dankie Louis ‘n ware vriend van baie jare van ons gesin vir die orrel, jy is mos maar ons orrelis. Hoe bevoorreg is ons nie dat jy vandag in hierdie moeilike omstandighede dit vir Peet kon doen nie!

Dankie Ds Nico Botha vir die boodskap by die roubetoon en Dr Gert, Peet se eie neef vir die dankbaarheidsdiens. Ek is so dankbaar en bly ons kon Peet se wense uitvoer. Baie dankie Neville by Doves vir jou simpatieke manier van hulp en bystand met al die begrafnisreëlings. Baie dankie aan almal hier teenwoordig, vir al die boodkappe, telefoonoproepe, sms’e, e-mails, kaartjies en blomme. Ons sê so baie dankie, elke gedagte en gebedjie dra ons!

Ten slotte wil ek graag met julle deel dat ons gesin so gelei is in hierdie maand deur ons Hemelse Vader se Voorbereiding tot vandag. Op elke praktiese manier, die bymekaarkom en daar wees, dat Peet by sy sussie siek geword het, elke fynste klein detail spreek van God se Voorsienigheid en Almag! Ons kan met groot berusting, kalmte en vrede aangaan want deur alles was God ons so genadig om ons deur alles te beskerm en kan ons net getuig van ‘n Liefdevolle Lewendige God. Sal julle asb almal saam met my bid en Louis sal jy daarna vir ons afsluit met die sing van die Onse Vader?

“Dankie Dierbare Heer vir die heilige oomblikke langs Peet se bed vir ons almal, al die kinders, sussies en boeties en vriende waar ons vir Peet kon groet en afskeid neem. Baie dankie Peet vir jou jywees en jou baie versorging en liefde! Dankie Heer dat U Peet vir ons geleen het en mag ons sy nagedagtenis eer om maar net te streef om in sy voetspore te volg.  Mag ons almal wat agterbly net ‘n deeltjie van U Grootheid en Goedheid beleef want Heer ons loof en Prys U, want U Genade is vir ons genoeg! Dankie dat ons nou ons hele lewe en toekoms net so in U hande kan plaas, dat ons kalm en rustig kan lewe en weet Peet is by sy Hemelse Vader, want soos die Psalmdigter sê-: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Ek sal julle terugneem na My toe sodat julle ook kan wees waar Ek is!” AMEN.

Peet Buys Huldeblyk Blad

Leave a Reply